Morné Basson is die verpersoonliking van ‘n ‘Klipkouer'. En, die ideale persooon om 72km/dag fiets te trap vir 72 opeenvolgende dae. Dit doen Morné ter ondersteuning van The Character Company, wat mentorskap aanbied vir jong seuns wat grootword met ‘n afwesige pa. Morné is ‘n merkwaardige langasem, en het al 72 marathons afgelê, op ‘n trapmeul, ter bewusmaking van motorneuronsiekte, en in 2015 selfs die Comrades voltooi op ‘n passasierskip in Alaska...

More info

The Tornadoes, ‘n Britse popgroep van die Sestigerjare, het in 1962 ‘n futuristiese Nr 1-treffer gehad met hulle enkelsnit, ‘Telstar’,wat verwys na een van die eerste kommunikasie-satelliete wat ooit gelanseer is. Soos Kallie Carlson egter verduidelik, is kommunikasie-satelliete lank reeds nie meer futuristies nie. Kallie is die besturende direkteur van Paratus Suid Afrika, ‘n onafhanklike verskaffer van laaste-myl, satelliet-gebaseerde konnektiwiteit en toegangsoplossings...

More info

Met soveel ondernemings wat moontlik skipbreuk kan ly gedurende COVID-19, verkeer heelwat eienaars moontlik onder die wanindruk dat hulle eenvoudig hul deure moet sluit. Daar is egter alternatiewe opsies. Arno Jansen van Vuuren van STRATLAW gesels met my oor Samesmeltings en Oornames, oftewel ‘Mergers and Acquisitions’, as groeistrategieë of oorlewingstrategieë - sonder dat die besigheid se deure noodwendig gesluit moet word. Die hoofdoel is om ‘n wen-wen situasie te probeer skep, en in dié opsig is dit kritiek dat ‘n mens se besigheid aantreklik is vir beleggers en dat jy ‘n ideale besigheidsvennoot kan identifiseer.

More info

Theo Prinsloo staan, saam met sy ou skoolvriend Johan Swarts, aan die stuur van Guano Boost, ‘n innoverende maatskappy wat ‘n alles-in-een, 100% organiese kunsmisproduk aan boere voorsien. Guano Boost word vervaardig van Namibiese guano (voëlmis) wat, met ‘n stikstoftelling van N16.5%, die hoogste konsentraat ryk, natuurlike messtof in die wêreld bevat. Die produk word verwerk by hul aanleg in Swartwater, Limpopo. Guano Boost help kommersiële boere om sowel hul oesopbrengste as die rakleeftyd van hul produkte op ‘n volhoubare manier te verhoog, terwyl dit tersfeldertyd operasionele logistiek vergemaklik en omgewingsvriendelik is.

More info

Met ‘n agtergrond in boekhou, het Leonie Marques aanvanklik by die Ontvanger van Inkomste gewerk, en ook sowat 40 maatskappye se boeke van die huis af behartig. Daarna het sy ‘n ander koers ingeslaan deur ‘n tuindiens-besigheid te koop, wat sy van 100 na 300 tuine per maand uitgebrei het. Haar seun se huiswerklading, tesame met sy sport, het haar genoodsaak om te begin help met opsommings, sodanig dat sy vir maats ook begin opsommings maak het. So het Studiemeester™, 'n innoverende leerlingondersteuningsplatform wat ouers die geleentheid bied om hul kinders se leerwerklading te verlig sonder om hul akademiese groei te stuit, die lig gesien.

More info

Sarel du Plessis kan met reg beskryf word as ‘n ghoeroe van die Suid-Afrikaanse media- en bemarkingsbedryf. Met 32 jaar ervaring in die advertensiewese, bemarkingsaangeleenthede en die drukkers- en uitgewersbedryf, weet hierdie 64-jarige boorling van Edenvale so ‘ietsie’ van die media-industrie, en dra hy ook eerstehandse kennis van krisistye in die geskiedenis, soortgelyk aan die huidige COVID-19 pandemie, en hoe die mensdom weer anderkant uitgekom het. Sarel was onder andere besigheidsbestuurder van Business Day en verkope- en bemarkingsdirekteur van Times Newspapers. In die Media24-stal het hy die poste as onderskeidelik uitgewer en hoof-uitvoerende beampte van sowel die Sondagkoerant-afdeling, RCP Media, as News Media North, die uitgewers van Rapport, Beeld en Volksblad, beklee. Sarel was ook die stigter van Ads24 en algemene bestuurder van Groot FM (‘Die Groot Ontbyt), terwyl Rapport se uiters gewilde ‘Ons Sing Jou Taal’-reeks van CD’s sy breinkind was. Deesdae bedryf Sarel sy eie konsultantbesigheid, Lekker Media.

More info

Misdaad is buite beheer. En, hoe dan anders, met statistieke wat dui op ‘n gemiddeld van 57 moorde per dag, ‘n roofaanval elke paar minute en ‘n verkragting elke vier minute... Dankie tog vir my jongste gas, Mike Bolhuis, wat dit as sy roeping sien om misdaad met hand en tand te beveg. Met meer as 35 jaar ervaring, is Bolhuis se genadelose en somtyds onortodokse stryd wat hy teen misdadigers voer welbekend, en selfs berug. Op een van sy T-hemde staan geskryf: ‘NO DRUGS, NO VIOLENCE’. Dit, in ‘n neutedop, is die fokus van Mike Bolhuis se krystog teen misdaad. Niemand is meer passievol oor die stryd teen misdaad as hy nie, veral wanneer vrouens, kinders en diere daaronder ly. Oor die jare was hy uiters suksesvol daarin om bende- en dwelmverwante misdade te beveg, tot so ‘n mate dat sy maatskappy as ‘n laaste uitweg beskou word. 'n Moderne "A-team"!

More info

Wat 'n mal tyd! Hierdie Meksikaanse Bier Gogga is besig om groot amok te maak. Ek dink die wêreld het laas met 9/11 so baie ontwrigting en onsekerheid ervaar. Maar, chaos skep geleenthede. Moet net nie perspektief verloor nie en meer belangrik: Leer, Reflekteer en Implementeer.

More info

Ontmoet Isak Marais, ‘n entrepeneur met ‘n passie vir innovasie en bemagtiging. Marais het twee dekades gelede die groot sprong gewaag om sy eie besigheid op die been te bring. Dit het aanvanklik ‘klippe kou’ gekos, maar vandag sit hy aan die stuur van die toonaangewende Bramhope Groep. Bramhope spesialiseer in die lewering van MRO (Maintenance, Repair, Operations) bestuursdienste en sagteware, en is ook invoerders en verspreiders van meer as 150,000 industriële produkte.

More info